WAAROM GROEI DIE CHRISTENDOM NIE IN JAPAN NIE



Waarom groei die Christendom nie in Japan nie?

Die Shinto-muur.

‘N OPROEP TOT EENDRAGTIGE GEBED

… die eilande wag op wat Hy hulle sal leer [Jes 42:4].

Soos die waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word [Hab 2:14].

Hierdie beloftes van God geld ook vir Japan, alhoewel ons nog baie min daarvan sien. Kolossense 1:6 noem dat die evangelie in die hele wereld vrug voortbring. Van hierdie vrug is daar in Japan bloedweinig te sien, vergeleke met bv Suid-Korea en China. Hand 19:10 noem dat in twee jaar se tyd al die inwoners van die provinsie Asië (nou deel van Wes-Turkye) die woord van die Here gehoor het. So word die evangelie nie in Japan gehoor nie. Tog is Japan deel van God se oesland, waar die oes reeds ryp is.

Japan is tans die tegnologies mees ontwikkelde land ter wêreld, en een van die mees geletterde en rykste volke. In Japan is daar godsdiensvryheid. Daar is geen vervolging van Christene van die owerheid se kant soos in sommige ander lande nie. Tog knaag die vraag: Waarom groei die Christendom tans nie in Japan nie? Die hoofrede is waarskynlik die kollektiewe gemoed van die Japanese (die sg Japanese mind). Ons wil dit noem die Shinto-muur, wat naastenby ondeurdringbaar is. ‘n Ander rede is waarskynlik die heersende voorspoed. Ons kyk hier egter eerstens na die redes vir die ondeurdringbaarheid van die Shinto-muur. Van die redes is waarskynlik die volgende:

1. Die Japanese godsdiens. In die sending en in gebed word Japan internasionaal afgeskeep, miskien omdat dit ‘n ontwikkelde land is. Verder is Japan ‘n godsdienstige ‘eiland’. Alhoewel Japan grotendeels Boeddhisties is, het die land ‘n eiesoortige godsdienstige stelsel. Waarskynlik kan van die Japanese godsdiens as sodanig gepraat word. Die Japanese is geneig om te se: ‘Ons Japanese doen dit.’ Vir die Japanese is dit nie so belangrik wat presies jy glo nie. Wat tel, is hoe jy religieus handel. Wat in ander Boeddhistiese lande geld, is nie noodwendig van toepassing op Japan nie.

Die Shinto-godsdiens is die tradisionele Japanese godsdiens, ‘n soort natuurgodsdiens, vergelykbaar met die tradisionele Afrika-godsdienste. In Japan funksioneer dit net binne die konteks van ‘n ontwikkelde gemeenskap. Daar is talle gode in hierdie godsdiens, eintlik miljoene. Alles, soos riviere an berge, is begeesterd, en dus eintlik goddelik. Die Japanese voel ook baie aangetrokke tot die skoonheid van die natuur, soos kersiebloeisels, herfskleure, tuine en warmbronne. Dit gee die gevoel van om omring te wees deur die goddelike.

Vir die Japanese is die Christelike begrip van een God baie moeilik om te verstaan. Die woord vir ‘god’ (kami) is ook problematies. Dit dui sowel enkelvoud as meervoud aan. As Christene van God praat, dan is die Japanese geneig om te dink aan meer gode.

Baie Japanese glo vandag nie werklik in die bestaan van enige gode nie. Ook is die identiteit van die Shinto-gode dikwels vaag. Baie Japanese ken net die name van enkele van hulle gode, en dikwels word die gode nie op die naam aangeroep nie. ‘Kami´ kan ook bloot beteken ‘bo’. Daarom is die gode die wesens daarbo. Die Shinto-manier van bid is dikwels net woorde wat na die wêreld ‘daarbo’ gerig word, sonder dat spesifieke gode geïdentifiseer word. Tog speel die Shinto-atmosfeer steeds ‘n groot rol. Alles in Japan word deur die Shinto-konteks deursuur, bv sumo-stoei en ‘n menigte tradisionele feeste wat vir die Japanese spesiaal is. Oral word Shinto-heiligdomme aangetref, kleiner en groter, met die kenmerkende Torii-poorte. Die Shintoïsme karakteriseer die Japanese lewenswyse en gemoed. Dit is die bewaring van Japaneeswees. Oor die algemeen is Japaneeswees die belangrikste saak vir Japanese, en die Shinto-konteks is deel daarvan en versterk dit. In die Shinto-opset is die voorvaders (soos in Afrika) van kardinale belang. Die kontinuïteit met die voorvaders is essensieel en so word die karakter van Japaneeswees bewaar. As daar ge-“bid” word in Japan, is dit hoofsaaklik gesprek met die voorvaders, gewoonlik by bepaalde feestye, enkele kere in die jaar. Die voorvaders is ook deel van die wêreld daarbo. Gebed hou dikwels die hoop in dat iemand daarbo moontlik kan hoor en kan help. Sommige mense bid meer gereeld en direk tot sekere Shinto-gode, om bepaalde redes. Die gode van sakevoorspoed (Ebisu) en milddadigheid (Hotei) is van die gewildste.

[pic]

Een van die bekendste torii-poorte, by Miya-eiland, naby Hiroshima

Tot met die Tweede Wêreldoorlog is die Japanese keiser as ‘n godheid beskou, ‘n afstammeling van ‘n oerverbintenis tussen ‘n godheid en ‘n sterfling. Om hierdie rede het die Japanese volk hulleself as ononoorwinlik beskou. Met die Japanese oorgawe het die destydse keiser (Hirohito) verklaar dat hy nie ‘n god was nie. Tog kry die keiser steeds ‘n buitengewone verering, deur sommige nog naastenby aanbidding.

Volgens die huidige Japanese grondwet is die keiser die simbool van Japan. Die Japanese is gewoonlik baie eksklusief in hulle siening van hulleself. Dikwels word gesê dat daar vir die Japanese twee soorte mense is: Japanese en uitlanders. Japan het iets spesiaal wat mense uit ander volke nie werklik kan deel nie. Die Japanese grondgebied word ook dikwels as heilige grond gesien, onderskeie van die res van die wêreld. Die keiser bly dus die simbool van hierdie eksklusiwiteit van die land en van Japaneeswees. Hy is die beliggaming van hierdie sake.

Japan het ook ‘n eiesoortige Boeddhisme, wat in verskillende sg sektes bestaan. Zen is byvoorbeeld een daarvan. Daar is ‘n hegte band tussen die Shinto-geloof en die Boeddhisme in Japan. Oor die algemeen weet mense nie waar die grense tussen Shintoïsme en Boeddhisme lê nie. Daar is bepaalde godhede wat slegs in Japan met die Boeddhisme verbind word, bv ‘n vroulike Boeddha-figuur. Die Boeddha en sy vroulike eweknie word ook deur sommige op ‘n meer gereelde basis aanbid, ook by klein huisheiligdomme. Dikwels sal Japanese ook net praat van Japanese godsdiens, bedoelende hierdie mengsel van Boeddhisme en Shintoïsme. Gewoonlik word die twee godsdienste afsonderlik verbind met verskillende sake. Die Shinto het meer te doen met die hiernoumaals (bv geboortes en huwelike) en die Boeddhisme met die hiernamaals (begrafnisse en periodieke herinnerings aan die gestorwenes). Afgesien van baie se godsdienstige onverskilligheid, is die atmosfeer van die Japanese godsdiens steeds ‘n bastion vir die bewaring van Japaneeswees.

2. Japan het ook ‘n karakter van oorlewing, ten opsigte van bv buitelandse invalspogings (soos deur Koeblai Khan), sowel as natuurlike bedreigings: tifone (soortgelyk aan siklone) en aardbewings. Op buitelandse bedreigings was die antwoord dikwels isolasie, en teen natuurrampe soos aardbewings en tifone is selfbeskerming belangrik. Dit alles is deel van die karakter van Japaneeswees.

Met al hierdie dinge word die Shinto-muur versterk.

3. Japan se omgang met die Christendom. Daar was minstens vier sendingbewegings na Japan. Die eerste was van Asiatiese oorsprong, deur die Assiriese kerk van die vroeë Middeleeue, ‘n eeu of twee na die aankoms van die Boeddhisme in Japan. Hierdie onderneming het vermoedelik aanleiding gegee tot barmhartigheidswerke in Japan.

Die volgende drie pogings was almal relatief suksesvolle sendingbewegings in Japan, en al drie is deur binnelandse omstandighede gestuit. Na Vasco da Gama se ontdekking van die seeweg na die Verre Ooste, het die eerste Rooms-Katolieke sendelinge Japan in 1549 bereik. Daar het ‘n tydperk gevolg wat soms as die Christelike Eeu bekend staan. Die Rooms-Katolieke sendingpoging het taamlik vrug gehad en het ‘n tyd lank ‘n stewige impak op Japan gehad . Die leier van die eerste sending, Francisco Xavier, het Japan genoem “die vreugde van my hart... die land in die Ooste wat die geskikste is vir die Christendom”.

Vanaf ongeveer 1600 het daar ‘n angs in Japan ontstaan (ook as gevolg van dwase opmerkings van o a Spaanse seelui) dat die sendelinge die wegbereiders was van Europese besetting. Hierop het die vervolging van Christene (eintlik Katolieke) stelselmatig begin. Teen 1638 was die Christendom ‘n totaal verbode godsdiens. Feitlik alle kontak met die buiteland is ook afgesny. Nederland – nie-Katoliek - is toegelaat om buite Nagasaki op ‘n klein eilandjie ‘n handelspos te bedryf. Oral oor Japan is daar kennisgewingborde opgerig wat die Christendom as verbode verklaar. Hierdie borde is eers teen 1873 verwyder, na die heroopstelling van Japan. Japanese skoliere leer hierdie dinge in hulle geskiedenisleerplanne. Die agterdog teen die Christelike geloof word so verder op die Japanese gemoed afge-ets, en die Shinto-muur word hierdeur verder gepantser.

‘n Derde beweging het begin na die heroopstelling van Japan. Sendelinge het dit ervaar as die begin van ‘n toenemende proses van bekerings. Die grondslae van die huidige Japanese kerk is gelê. Nietemin is die lede van die kerk destyds grotendeels getrek uit die gewese Samurai-klas, die vroeëre hoër klas. Die oopstelling van Japan het saamgeval met die aftakeling van die Samurai-klas (vgl die film The Last Samurai). Baie gewese Samurai het gesoek na iets wat hulle vroeëre status kon vervang, en hulle het dit gevind in internasionale kontak, onder andere in die (Westerse) kerk, by wie hulle ook Engels kon leer. Die vernuwing van Japan was destyds veral ‘n volksbeweging, weg van die Samurai af. Dus het die Christelike boodskap nie werklik die massas bereik nie. Daarna het die groeiende Japanese ultranasionalisme in die dekades tot met die Tweede Wêreldoorlog feitlik alle Christelike inisiatief gesmoor. Wat oorgebly het, was ‘n gedemoraliseerde en oor- lewingsgesinde kerk.

‘n Vierde beweging het na die Tweede Wêreldoorlog gekom, toe Japan verarm en wanhopig was. Talle bekerings het gevolg. Maar Japan het herstel en het ‘n welvarende land geword. Daarmee het die appèl van die Christelike boodskap verflou. Hierdie keer was die opkomende materialisme die remmende faktor.

4. Akkommodasie in ‘n veelgodedom. In Japan word selfs Kersfees op ‘n bepaalde manier gevier. Die Kerskind is egter so goed as afwesig daarin. Hier en daar sien jy ‘n staltoneel in bv winkels. Almal weet Kersfees is ‘n Christelike fees, maar die joligheid van Kersfees, soos by die meeste Shintofeeste, kry die oorhand. Die Japanese hou van versierings en atmosfeer. Daarom is Kersbome vol liggies teen Desember volop. Kersliedere weerklink ook in openbare plekke, gewoonlik in Engels. Tussen Christ the Saviour is born en Rudolf the Red Nosed Reindeer word nie onderskei nie. Geskenke word ook gegee en familie-Kersetes vind ook taamlik plaas. Sinterklaas is ook baie tuis in Japan. Alles eindig egter op 24 Desember, want op die 25e begin die Japanese Nuwe-Jaarsiklus.

Die Japanese kultuur is – soos baie ander kulture – in ‘n sekere sin ‘n leenkultuur. Baie dinge is uit ander kulture oorgeneem, soos Westerse tegnologie. Sulke dinge gebeur egter ter wille van Japan, as Japan daarby kan baat. Die Christendom (soos hulle uit hulle verlede leer) is nie iets waarby Japan werklik kan baat nie. Daarom kan bv die versierings en atmosfeer van Kersfees oorgeneem word, sonder dat die Christelike boodskap ‘n rol speel. Iets wat vreemdelinge die land inbring word maklik met agterdog bejeën, terwyl dit in orde is as Japanese self dinge oorneem. Japan se selfbeskermingskultuur speel ook hier ‘n belangrike rol.

Die Boeddhisme (veral in Japan) is ‘n akkommodasiegodsdiens. In die oer-Boeddhisme speel gode nie werklik ‘n rol nie, maar verskillende godsdienste kan binne die ruimte van die Boeddhisme figureer. So kon die Boeddhisme in Japan die Shintogodsdiens volledig akkommodeer, en omgekeerd. Dikwels lê die twee soorte tempels langs mekaar, en daar is selfs tempels wat altwee vorms bedien.

Binne die Japanese Boeddhisme is daar dus plek vir allerlei gode. So is daar bepaalde godhede wat ook binne die Japanese Boeddhisme vereer word. Die Shinto-veelgodedom kan ook ruimte maak vir nog meer gode. Op hierdie manier kan sekere elemente van die Christendom ook geakkommodeer word. Talle vrouens dra bv kruisies as versierings. Ons verstaan dit is blykbaar bloot ‘n modeverskynsel. In Japan kan daar selfs Christelike gebede in Japanese se teenwoordigheid gebid word en hulle sal soms saam ‘amen’ sê. Westerse huwelike word ook gereeld voltrek, in ‘n tipe van ‘n Christelike kleed. Die wit bruidsrok en dele van die klassieke Engelse huweliksfromulier (in vertaling) gee atmosfeer (vgl for better, for worse, for richer, for poorer, in sickness and in health).

Alhoewel baie Japanese nie aan enige gode glo nie, is die atmosfeer van baie godsdienstige aktiwiteite vir hulle van waarde. Die meeste Japanese het ‘n sterk besef van die numineuse of die sakrale, van die wêreld daarbo. Selfs Christelike elemente kan in hierdie wêreld daarbo ingesluit word, bv Maria en engele. Die algemene gadagte is dan dat daar ten minste iemand daarbo is wat kan help. Om hierdie rede dink Japanese dikwels dat alle gebed dieselfde waarde het, aangesien daar vir alle godsdienste iemand ‘daarbo’ is.

Verder is die Japanese oor ook ontvanklik vir die gewyde musiek van bv JS Bach, sowel ask vir gospelmusiek. Enigiets spiritueels word geredelik waardeer, en alle geestelikes – ook Christen-predikante – word oor die algemeen gerespekteer. Sommige Japanese dink selfs dat hulle drie godsdienste ondersteun, deurdat hulle iets maak van Kersfees en ook Christelike sermonies hier en daar bywoon, soos huweliksplegtighede.. Al die genoemde sake maak dat dit vir Japanese baie moeilik is om die uniekheid van die verlossing in Jesus Christus te verstaan.

5. Die Japanese geaardheid. Die Japanese is van die hoflikste, vriendelikste en hulpvaardigste mense op aarde. Hulle sal dikwels uit hulle pad uit gaan om buitelanders oor die weg te help. Tog kan hierdie hoflikheid en hulpvaardigheid ‘n fasade wees. Japanese is oor die algemeen taamlik geslote en hulle deel hulle binneste moeilik met enigeen, ook met hulle volksgenote. Die algemene ingroep in Japan is jou werksgroep (maatskappy of company). Soms is daar meer openheid binne hierdie groepe.

Die Japanese hou oor die algemeen niks van konfrontasie nie, en ‘n konfronterende styl van evangelisasie word baie negatief ervaar, anders is ‘n sommige ander kulture. Aan die ander kant het ‘n konfronterende metode – soos van die Jehowasgetuies – beperkte sukses, miskien onder sekere persoonlikheidstipes. Tog word bekering maklik gesien as die aflê van jou Japaneeswees. Daarom is die gemiddelde Japanese Christen se bekeringspad baie lank, gewoonlik jare. Daar is so baie prosesse wat deurgewerk moet word, al die bostaande sake.

Die Japanese teensin vir konfrontasie het onder andere sy agtergrond in die Japanese geografie en demografie. Die land is grootliks bergagtig en die bewoonbare area is relatief klein. Daarby is die bevolkingsdigtheid hoog. Daarom meen hulle dat dit noodsaaklik is om in vrede saam te bestaan. Die beweegruimte is te min om onmin en twis toe te laat. Daarom word die uiting van gevoelens, veral negatiewe gevoelens, ontmoedig.

‘n Kultuur van skaamte is ook deel van die Japanese aard. Om iets te doen wat uit pas is, is beskamend en dit moet met skaamte bely word, soos in jou maatskappy of ingroep. Om meer te begin belang stel in die Christelike geloof, word gesien as iets wat uit pas is. Vrese en swakhede behoort ook nie getoon te word nie. Die Japanese (veral mans) moet die indruk van krag skep. Om jou mislukkings en vrese te erken, is ‘n teken van swakheid. Gevolglik is besef van sonde en skuld ‘n moeilike saak om te begryp.

6. Die evangelie word eintlik nie gehoor in Japan nie. Ons ondervinding is dat die gemiddelde Japanees eintlik geen kennis dra van die Christelike boodskap en die Bybel nie. Hier en daar hoor jy dat op ‘n negatiewe manier na die Christendom verwys word as bv ‘n bloedige godsdiens (die rol van die bloed van Christus). Dat God liefdevol is, klink vir die Japanese aanneemlik, maar hulle assossiasie hiermee verskil nie veel van die algemene siening van Sinterklaas nie. Sommige van die Shintogode is sulke goedige en amper komiese figure soos Sinterklaas. Daar word tog Christelike boodskappe hier en daar oor radiostasies uitgesaai, maar op tye wanneer en plekke waar min mense luister. Daar vind ook geen openbare debat oor die evangelie plaas, soos wat dit in die tyd van die Rooms-Katolieke sendelinge van die sestiende eeu was nie – ook nie oor die godsdiens as sodanig nie. Om meer van die Christelike boodskap uit te vind, is eintlik geen behoefte aan in Japan nie. Daarom is Japan eintlik ‘n onbereikte gemeenskap.

‘n Hindernis is natuurlik wat Japanese deur die media van die Weste verneem, want dit is waarmee die Christendom geassosieer word. Die gemiddelde Westerling in Japan is ook nie iemand by wie Bybelse waardes sterk leef nie, behalwe dat Kersfees gevier word. So word die Christelike geloof ook gesien as iets wat nie werklik uitdagings bied en ‘n verskil maak nie. Tog interesseer dit die Japanese wanneer hulle met buitelanders praat wat Jesus Christus ken en leef. In sulke omstandighede wil hulle dikwels meer weet.

7. Die Japanese kerk. Soos in ander kulture vertoon die kerk hier ook aspekte van die gangbare kultuur. Die Japanese kerk is oor die algemeen baie versigtig en nie- konfronterend in sy benadering. Die soms oordrewe hoflikheid en taamlik formele aanslag van die Japanese samelewing kry ook ‘n neerslag in die kerk. Ook is Christene skugter, miskien oor hulle sterk minderheidsposisie (minder as 1% van die bevolking) en ook oor die geskiedenis van vervolging.

Die gemeentes is oor die algemeen baie klein (gemiddeld 30 lidmate) en predikante moet alles doen, bv ook die koster-, skriba- en kassierswerk. Tog is dit wonderlik dat sulke gemeentetjies hulle predikante onderhou. Die predikante is ook baie lief vir vergaderings – miskien in die lig van die sterk Japanese groepsbesef. Daarom kry die predikante oor die algemeen nie veel tyd vir besinning oor bedieningstrategieë nie. Probleme en vrae wat hulle oor hulle eie bediening vra, word grotendeels binne hulleself gedra en kom moeilik na die oppervlak. Hulle word dikwels vasgevang binne die plaaslike bedieningsopset en plaaslike vraagstukke, sodat hulle moeilik verder kyk na die geestelike nood van die hele Japan. Van die Japanese word ook soms gesê dat hulle baie deeglik kyk na die detail van ‘n situasie en nie baie in die groter prentjie belang stel nie. Blykbaar vryf hierdie benadering ook af op die kerk. Daar is ook min gebedsaksies en kerklike gebede wat ruimer kyk na die geheel van Japan.

Ons indruk is dat die prediking in Japan oorwegend leermatig is, omdat die Japanese baie op detail ingestel is en alle kante van ‘n saak deeglik wil bekyk. Die predikante is ook ongemaklik oor die gebrek aan Bybelkennis by lidmate. Gewoonlik word Bybelboeke dan van hoek tot kant deurgepreek, soms jare op ‘n boek. Hierdeur wil ons nie die belang van goeie Skrifuitleg en gesonde leer afwater nie, maar die gevolg is dikwels dat die praktiese Christelike lewe en ‘n ingesteldheid van uitreik minder aandag kry. Dit kom voor asof die kerk in hierdie nie-Christelike wêreld soveel van ‘n oorlewingstryd voer, sodat sy nie haar visiere wyer rig nie.

Dit kom ook vir ons voor asof daar min werklike kerklike samewerking plaasvind. Omdat die kerk ‘n oorlewingstryd voer, voer elke denominasie ook haar eie stryd. Sodoende kry die gesamentlike stryd van die kerk nie voldoende aandag nie.

Die Protestantisme is oor die algemeen taamlik versplinter in Japan. Sommige kerke word deur ander verkwalik omdat hulle nie in gesprek gaan met ander kerke in Japan nie, terwyl hulle tog in gesprek is met buitelandse groepe. Sommige sektore van die kerk in Japan het ook ‘n erfenis van liberale teologie, gewoonlik verbind aan ‘n soort politieke teologie. Dit bring ook mee dat daar in sekere kringe ‘n gebrek aan ‘n sendingvisie vir hulle eie land is.

DIE NOODSAAK VAN GEBED VIR JAPAN

Uit die voorafgaande behoort dit duidelik te wees dat die belangrikste saak in die evangelisering van Japan gebed is, volgehoue gebed deur die wêreldkerk. Soos die kerk van Christus gebid het vir die val van die Ystergordyn, so is gebed vir die val van die Shintomuur nodig. Dit is net God self wat ‘n verskil in die Japanese se benadering tot die evangelie van Jesus Christus kan maak. Daarom is gebed van beslissende belang, seker die belangrikste wat Christene kan bydra tot die evangelisering van Japan.

Ook is dit vir ons duidelik dat gebed vir die evangelisering van Japan moet gaan oor die volk van Japan, sowel as oor die Japanese kerk.

Gebedsprogram vir Japan

Hier volg ‘n moontlike gebedsprogram wat gebruik kan word:

Die oorkoepelende gebed – meen ons - moet wees

dat God verheerlik sal word in Japan,

deurdat Hy self die Shinto-muur sal kraak ,

sodat die evangelie van Christus kan deurspoel na die mense van die land toe.

Ons voel hierdie versugting behoort die invalshoek van alle gebed vir Japan te wees. Die Japanese kerk behoort hierby ingesluit te word, aangesien die kerk in Japan haar eie stryd het (soos bo genome). ‘n Manier om dit prakties gestalte te gee, is deur ‘n liturgiese moment in die Sondagliturgie in te bou, bv:

Hemelse Vader, brei u genade uit na Japan.

Breek die hindernisse vir die evangelie in die mense se harte af,

sodat die Naam van Jesus Christus in daardie land verheerlik mag word.

Vader, versterk u kerk in Japan,

Sodat hulle hulle roeping opnuut sal besef

en vrymoedig van Jesus Christus sal getuig.

Die volgende punte kan dan om die beurt aandag kry:

1. Dat meer Japanese die evangelie van Christus duidelik sal hoor, bv deur meer kreatiewe metodes, en deurdat meer Christene in Japan kom woon en werk as getuies;

2. Dat mense wat een of ander kontak met die Christendom kry, bv deur Kersliedere, troues, begrafnisse en juweliersware, sal soek na die eintlike betekenis van hierdie dinge,

dat die Japanese sal ontdek (soos met Paulus se “onbekende God” van

Handelinge 17) dat die God van liefde en genade meer is as wat hulle tans ken;

3. Dat die kerk hier nie moedeloos sal word en vaskyk in plaaslike omstandighede nie, maar dat sy meer en meer ‘n visie sal ontwikkel vir die evangelie in Japan, sowel as vir dienslewering, bv met natuurrampe;

4. Dat die kerk van Christus (alle denominasies) sal saamstaan in hierdie visie;

5. Dat Christene ‘n groter vrymoedigheid sal kry om oor hulle verhouding met Christus te praat;

6. Dat die talle Christelike instellings in Japan (skole, universiteite, hospitale) hulle bestaan meer en meer as ‘n roeping sal sien. Vir die Ned Geref Kerk is Seiwa-Hoërskool vir Meisies in Kochi, Shikoku-eiland van groot belang, aangesien NG lidmate daar werksaam was oor die afgelope paar jaar, op die oomblik Gys en Linda Olivier.

7. Dat die buitelandse sendelinge in voortdurende afhanklikheid van God steeds sal soek na weë om effektiewe navolgers van Christus in Japan te wees. Dink bv hier aan Tobie en Annalie de Wet, sowel as Stephan en Carina van der Watt (almal in Tokushima, Shikoku-eiland).

Hierdie sewe punte kan bv oor die sewe dae van die week versprei word. Gemeentes kan dit ook van week tot week (in eredienste en ander byeekomste) afwissel en daarop uitbrei. Vir uitbreiding kan jy bv op sekere gebiede of stede in Japan konsentreer. Kyk daarvoor bv op ‘n landkaart. Tov Seiwa-Skool kan ‘n mens bv om die beurt konsentreer op die skoolhoof, die ander onderwysers, die beheerliggaam, die leerlinge en die Olivier-egpaar. Die ideal sal wees dat gemeentes en limate hulleself voor God sal afvra of hulle nie gebed vir Japan as hulle verantwoordelikheid sal aanvaar nie. Gemeentes in Japan kan ook as gebedsvennote ‘aangeneem’ word, en besoeke kan oor en weer gebring word.

Daar is ‘n breedvoerige gebedsgids vir Japan (provinsie vir provinsie) te kry by die Japan Evangelical Missionary Association – Operation Japan : jema-info@ . (Provinsies in Japan word genoem prefekture, effens soortgelyk aan die graafskappe in Brittanje.) ‘n Gebedskalender is ook verkrygbaar by jp@ (Japan-sending).

Naskrif: Wat is nodig vir die evangelisasie van Japan?

‘n Paar gedagtes

1. Gebed deur die universele kerk

2. ‘n Biddende, verenigde visie vir evangelisasie by die kerk in Japan

3. Gedetailleerde verduideliking (die Japanese se behoefte aan besonderhede)

4. ‘n Japanese kerk wat gereed is vir diens in noodsituasies

5. Christene wie se lewens egtheid vertoon, meer as wat normal en hoflik is

In Japan is tradisionele dienste wat gewoonlik met die sending gepaard gaan in ander dele van die wêreld, bv opvoeding, voeding, mediese dienste, nie ter sake nie. In Japan is hierdie dinge ontwikkeld genoeg. ‘n Meer aangewese metode van evangelisasie is dié van vriendskap en omgee, sodat Christus meer sigbaar word deur die lewe van Christene.

6. Die ontmoeting van mense in hulle in-groepe (verpleegsters, dokters, boere

ens).

7. ‘n Meer feestelike atmosfeer in die sending en in die Japanese kerk, aangesien die Japanese dol is oor feeste (bv ‘n doelmatige gebruik van die kerklike jaar).

8. Toegespitsde aandag aan die huwelik en gesinsverhoudings, aangesien

Japanese meer bekommerd hieroor raak. ‘n Sorgende en

omgeevaderbeeld van God is hier wesenlik, aangesien die deursnee aardse vaderbeeld by Japanese tradisioneel baie outoritêr is.

9. Gebruikmaking van die element van misterie, aangesien die Japanese

daardeur gefassineer word (bv films en boeke). Die Skrif maak heelwat

gewag van die element van misterie.

10. Benutting van die Japanese se natuurwaardering – beklemtoon God se skeppingswonders.

11. Benutting van musiek

12. Benutting van sport.

13. Benutting van ‘reddingsanalogieë’. “There are redemptive analogies of substitution in

Japanese history, culture, Kabuki, Bunraku, Kyoogen, children’s stories, and in

modern novels and in Kabuki there are analogies of a redemption type.” (Uit ‘n e-pos

vroeer ontvang, verkrygbaar by theomarlene@ .)

14. Kreatiewe maniere om die evangelie in hierdie land bekend te maak, bv ekstra kort

uitsendings oor die radio en televisie tydens spitsure.

Die sleutelfaktore vir Japan-sending is dus gebed, omgee (prayer & care), sowel as dat die evangelie hoorbaar in Japan sal word. .

Sendinggerigtheid van die NG Kerk (en die NG familie):

Wat deesdae as sendingwerk - deur veral die NG Kerk – geskied, is eintlik meer hulpverlening aan die jongkerke. Waar sendingwerk meer effektief benodig word, is in die ontoeganklike lande. Onder laasgenoemde tel Japan ook, alhoewel Christelike sendingwerk nie vanuit staatsweë bemoeilik word nie, maar deur die mentalitiet van die Japanese bevolking self. Tentmakersendingwerk moet ook in hierdie verband ernstig in die prentjie kom.

................
................

In order to avoid copyright disputes, this page is only a partial summary.

Google Online Preview   Download